Source: Vrouekeur, 16 October 2011
‘n Verstommende 11 miljoen mense in Suid-Afrika of 20% van die bevolking weet nie waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Die nie-winsgewende maatskappy, FoodBank SA, skep ‘n nasionale voedselbanknetwerk om die probleem aan te spreek. Na aanleiding van Wêreldvoedseldag op 16 Oktober, moedig FoodBank die publiek aan om die koste van ‘n maaltyd prys te gee en R20 te skenk om honger mense te help voed.
Patrick Andries, FoodBank se nasionale hoofbestuurder sê, ‘FoodBank het ‘n toegewyde SMS lyn geskep wat die publiek in staat stel om kitsdonasies te maak. Deur ‘n SMS met die woord “Foodbank”, na 40421 te stuur, word ‘n R20 donasie gemaak wat ons in staat stel om 12 honger mense te voed (* Gratis sms’e geld nie en die veldtog is geldig van 16 Oktober tot 31 Januarie 2012). Daar is nie ‘n makliker en vinniger manier om diégene in nood te help nie. Om honger hok te slaan is ook ‘n doeltreffende manier om misdaad, werkloosheid, slegte gesondheid en swak opvoeding te bekamp.’
FoodBank is in 2009 geloods. In die eerste twee jaar is ongeveer 32 miljoen maaltye landwyd geskenk met ‘n geraamde waarde van R121 miljoen. Die grootste hoeveelheid van hierdie voedsel sou andersins op stortingsterreine beland het. Die organisasie bied reeds voedselondersteuning aan meer as 1000 agentskappe wat gesamentlik meer as 203 000 honger Suid-Afrikaners voed en meestal weeskinders, kwesbare kinders, bejaardes, MIV/Vigs-lyers en werkloses insluit.
Andries vervolg, ‘By FoodBank bied ons ‘n eenvoudige oplossing om voedsel op te spoor, in te vorder en te versprei. Bowendien is die ondersteuning wat FoodBank bied, baie koste-effektief: die gemiddelde koste per maaltyd wat die afgelope jaar geskenk is, was net R1,68. Wêreldvoedseldag bied aan ons die geleentheid om bewustheid onder die publiek te skep en ons reddingswerk voort te sit.’
Sluit ook aan by FoodBank se Fill the Gap Klub en maak ‘n maandelikse of eenmalige skenking om ‘n gemeenskap, gesin of ‘n kind te ondersteun. ‘n R75 donasie sal byvoorbeeld ‘n volwassene of ‘n kind vir ‘n maand onderhou. Besoek www.foodbank.org.za vir meer inligting oor hoe mens ‘n verskil kan maak.
Moet asseblief nie wag nie want honger sal nie!






